
=====================================================================
Oor Afrikaans klap woord en weerwoord (AV 7:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Oor Afrikaans klap woord en weerwoord

'n Warm debat het op die webwerf LitNet oor Afrikaans ontwikkel wat ook oor die radio en in nuusblaaie 'n neerslag gevind het. Afrikaans 
Vandag het 'n paar van die deelnemers gevra om kortliks standpunt te stel.

KUNDIGE en betrokke deelnemers se debat kan prikkelend vir meningsvorming wees. Interessant van die huidige debat is dat geen deelnemer 
koud jeens Afrikaans staan nie, inteendeel. Menings verskil oor hoe te werk gegaan moet word om die grootste voordeel eerstens vir 
Afrikaans en dan ook vir ander inheemse tale te verseker.

Dr. Dan Roodt, skrywer en sakekonsultant, het pas die beweging Praag (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) gestig.

"Die polemiek wat die taalkwessie op LitNet ontlok, spreek van 'n identiteitskrisis onder Afrikaanssprekendes, maar ook onder Suid-
Afrikaners in die algemeen. Die bieradvertensie 'one beer, one nation, one language' gaan nie oral op nie. Vir baie het dit duidelik geword 
dat die taaldebat 'n papiertier geword het, en dat ons moet optree, soos byvoorbeeld deur te betoog, briewe aan ministers te skryf, 
boikotte te organiseer, sterk standpunte te stel, ens. Daar het werklik 'n nuwe taalstryd aangebreek en op hoogs ironiese wyse is die Suid-
Afrikaanse geskiedenis besig om hom te herhaal. Vir omtrent die derde of vierde keer in die geskiedenis moet Afrikaanssprekendes veg om die 
hor funksies van hul taal in die howe, die staatsdiens, die media, sakewreld, universiteite, ens. te behou.

"Opposisie teen die taalstryd wissel van apatie of berusting in die redusering van Afrikaans tot 'n soort huistaal of dialek sonder hor 
funksies, tot 'n beroep op implisiete rasseverdelings in die Afrikaanse kultuur wat ons veronderstel is om te eerbiedig. Die ongetoetste 
aanname word gemaak dat sogenaamde 'swart Afrikaanssprekendes' nie veel omgee vir Afrikaans nie, besig is om te 'migreer' na Engels, en dus 
nie sal deelneem aan enige aksies om Afrikaans se regte  ook grondwetlike regte  op te eis nie. In stereotiepe terme word probeer om 
optrede ten behoewe van Afrikaans af te maak as die gedrag van mense in kakieklere met swastikas. Die 'regse gevaar' is nou die 
plaasvervanger van die 'rooi gevaar' van die verlede; natuurlik het nie 'n enkele 'regse' persoon hom onlangs aan die kant van die 
taalstryd geskaar nie.

"Uiteindelik gaan die geskil oor twee verskillende opvattings van Suid-Afrikanerskap: dit wat ek elders genoem het 'n periferale Engelsheid 
en gepaardgaande gebondenheid aan 'n koloniale metropool, enersyds, en 'n radikale plaaslikheid, andersyds, wat verhul is en deur 'n proses 
van onthulling en wording ontdek moet word.

"Die beweging Praag is gestig om meer ruimte vir Afrikaans en die ander inheemse tale te beding."

Roodt kry steun van Johann Rossouw, filosoof en redaksielid van die filosofiese tydskrif Fragmente:

"Sedert 1994 beleef Afrikaans beide vooruitgang en agteruitgang. Op die gebied van private Afrikaans  dit wil s as alledaagse 
omgangstaal, as taal in die letterkunde en die musiek  het die taal sy politieke bagasie afgeskud en gaan dit baie goed. Op die gebied van 
openbare Afrikaans  dit wil s Afrikaans in die werkplek, in die staat- en semi-staatsektor, in die onderwys, media en handel  gaan dit 
al hoe slegter en dit ten spyte van die erkenning van elf amptelike tale sowel as die gewaande beskerming wat die Grondwet aan tale bied. 
Op hierdie oomblik, om maar twee voorbeelde te gee, word Afrikaanse aktualiteitsprogramme by die SAUK onder geweldige druk geplaas en kan 
Afrikaans sy status as verslagtaal in die howe verloor.

"Enige volledig funksionele taal kan slegs bestaan as beide private en openbare taal. Verloor jy die een, verloor jy ook die ander. Mense 
wat dus dink dit gaan so goed met Afrikaans, begaan 'n growwe oordeelsfout en besef nie dat Afrikaans as enigste volledig gemoderniseerde 
inheemse taal, en dus as nasionale bate, besig is om haar funksionaliteit te verloor nie. Wat staan ons te doen?

"Die afgelope paar jaar het verskeie inisiatiewe uit die Afrikaanse taalgemeenskap ontstaan wat almal gepoog het om iets aan die saak te 
verander: die Oorlegplatform, Tabema, die Stigting vir Afrikaans en die FAK het almal, om maar 'n paar te noem, gesprekke gevoer en protes 
aangeteken waar nodig. Myns insiens het hulle 'n verskil gemaak, maar nie genoeg nie en dit grootliks omdat hulle 'n te diplomatiese 
benadering gevolg het.

Naas hierdie bestaande inisiatiewe kort die huidige Afrikaanse taalkwessie (wat nie los van die soortgelyke kreeftegang van die ander 
inheemse tale ten opsigte van Engels verstaan moet word nie) twee belangrike faktore: 'n intellektuele onderbou en populre steun. Dit is 
presies wat ek hoop Dan Roodt se breinkind Praag gaan bewerkstellig. Die taalkwessie moet wyd en syd gepubliseer word, op linkse gronde 
bedink word en 'n belangrike bydrae lewer tot die stryd teen die hernieude Anglo-Amerikaanse kolonisering wat ons vandag in Suid-Afrika 
beleef."

Die skrywer, digter en akademikus dr. Joan Hambidge is drastiese aksie gene: "Ek ondersteun Roodt, want Afrikaans word verdring deur 
Engelse Afrikaners. Die lewendige kultuur van hierdie land is Afrikaans en was Afrikaans en sal Afrikaanse wees. Afrikaans is nie een van 
die amptelike landstale nie. Nee, dis Engelse versus niks! As 'n mens gay optogte mag en kan hou, behoort 'n optog vir 'n taal ook 'n merk 
te maak. Stilbly en die ander wang draai, was helaas nog nooit die oplossing nie. As ek wil Engels wees, sal ek liefs in Engeland gaan 
woon."

Chris Louw, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum op Radio Sonder Grense, praat vanuit 'n omgewing waar taalbedreiging onmiskenbaar 
is:

"Enkele jare gelede het ek in my hoedanigheid as radiojoernalis die omstrede frase gemunt: 'nuus is belangriker as taal.' In 'n sin is dit 
nog waar, maar wat verander het, is dat binne 'n nasionale instelling soos die SABC al hoe minder voorsiening vir Afrikaans gemaak word. In 
die nuwe nuuskonteks beteken dit dat taal as funksionele medium ondermyn word. Dit is net nie meer moontlik om nuus na Afrikaanstaliges te 
bring as taal in die insamel van nuus nie as vertrekpunt dien nie. En dan word taal weer belangriker as nuus.

"Ek noem dit om te toon hoe konteks bepalend vir spesifieke aannames is. ZB du Toit was redakteur van Die Patriot, Harald Pakendorf het op 
die ou SAUK-TV saam met P.G. du Plessis propaganda vir die mislukte Driekamerparlement gemaak, Dan Roodt was in sy tweede jaar 'n kommunis 
 Ons het almal verledes, maar wat daarvan? Ons lewe in 'n heeltemal nuwe, demokratiese politieke opset, en vir die eerste keer sedert 1948 
kan Afrikaanssprekendes vanuit 'n moreel regverdigbare posisie voorspraak vir hul taal- en kultuurregte begin maak. Solank ons die nuwe 
bedeling as 'n gegewe aanvaar, het elkeen  ongeag ons sogenaamde politieke "bagasie"  moreel, intellektueel en grondwetlik die reg om vir 
ons eie belange te stry, en inderdaad te baklei daarvoor. Elke belangegroep baklei immers eintlik per definisie vir sy belange, van 
sakeondernemings tot vakbonde.

"Wanneer dit by 'n sensitiewe kwessie soos taal kom, moet ons minstens realisties wees met ons eise. Ons doelstellinge moet prakties 
haalbaar wees, en dit sal grootliks daarom gaan om die status quo te verdedig eerder as om aanspraak te maak op meer as wat ons het. Die 
idee dat ons Afrikaans as 'n 'vriendelike taal' moet verkoop, is mooi en edel, maar op politieke vlak gaan dit geen vrugte afwerp nie. Soms 
sal ons maar moet vassteek en ferm, selfs moedswillig, ook wees.

"Realistiese eise?  Twee Afrikaanse universiteite, moedertaalonderwys, Afrikaans as amptelike taal op alle vlakke  en druk op die SABC om 
Afrikaans nie verder af te skeep nie."

Dr. Hein Willemse, direkteur van die organisasie Ons Leer Mekaar, waarsku teen isolerende gedrag. Hy steun gesamentlike optrede met ander 
inheemse tale.

"Inheemse Suid-Afrikaanse tale, waaronder Afrikaans, loop ernstige gevaar om toenemend uitgerangeer te word uit amps- en handelsomgewings. 
PANSAT, die liggaam wat die toepassing van die grondwet-taalklousule moet moniteer, is nie werklik toegerus om behoorlike sanksies toe te 
pas waar die klousule in ampsomgewings oortree word nie.

"Dit is duidelik dat burgerlike optrede kort voor lank nodig mag wees om die stand van sake aan te spreek. Een so 'n aksie is die betoging 
wat Praag in Pretoria wil rel. In die praktyk gaan die betoging  vir die meerderheid Suid-Afrikaners  weer eens tot die isolasie van 
Afrikaans lei.

"Vir die voortgesette belang van Afrikaans is dit nodig dat die taal as 'n nasionale bate gevestig moet word  ook in die o van gewone 
Suid-Afrikaners. As strategiese oorweging mag dit veel, veel beter wees indien daar aktiewe skakeling, oorlegpleging en optrede met 
leiersfigure in ander inheemse taalgemeenskappe is, sodat daar tot gesamentlike optrede besluit kan word. Op hierdie wyse word Afrikaans se 
lotgevalle gedeel met di van die ander Suid-Afrikaanse tale. Afrikaans word bevry van 'n persepsie van verkramptheid en bevoorregting. 
Betekenisvoller: Afrikaanssprekendes maak gemene saak met die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners.

"Die kwaliteit van Afrikaanssprekendes se taalvryheid gaan bepaal word deur die mate waarin ander Suid-Afrikaners ook werklike bevryding 
van hul moedertale ervaar. Enige optrede wat weer eens die isolasie van Afrikaans beklemtoon, ondermyn die volle inskakeling van 
Afrikaanssprekendes in hierdie land."

Harald Pakendorf, oudredakteur en politieke analis, glo dat nie meer gestry kan word oor die feit dat Afrikaans bedreig word nie, "tog is 
daar 'n gevoel dat saamstaan oor die kwessie meer gewig dra as om die beste metode te vind.

"Daar is ook vrae oor of die benadering van die briefskrywers in Insig, sommige deelnemers onder meer aan die FAK se gespreksbyeenkoms en 
andere nie maar weer op 'n bedekte en meer intellektuele wyse terugval nie in 'n soort eksklusiwiteit wat ruik na die Treurnicht-
benadering. Eerder moet prakties en sonder hoog opgee na die owerheid gegaan word  dus met konkrete voorstelle, soos: twee Afrikaanse 
universiteite, moedertaalonderrig, volledige gebruik van Afrikaans as ampstaal soos deur die Grondwet voorgeskryf.

"En die owerheid moet weet met wie hy praat  m.a.w. namens wie praat watter organisasie en watter groep? Met wie moet pres. Thabo Mbeki 
gesels?" A.v.N.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7210.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 2000 /// Gee kans! Afrikaans se saak groei wreldwyd (AV 7:2) /// 
Trust het miljoene geskenk (AV 7:2) /// Kursus in Afrikaans (AV 7:2) /// Limeriek I (AV 7:2) /// 'Kom ons lees en laat lees' (AV 7:2) /// 
Limeriek II (AV 7:2) /// Vroeg in nuwe eeu (hoofartikel) (AV 7:2) /// In memoriam Ds. Flip van der Westhuizen (AV 7:2) /// Sebrastrepe s 
hul s vir Afrikaans (AV 7:2) /// Oor Afrikaans klap woord en weerwoord (AV 7:2) /// Tyd van liefh het aangebreek (AV 7:2) /// Man met 
swart baret se woorde rinkink (AV 7:2) /// 'Losing my religion' (AV 7:2) /// Taalslordigheid berokken skade (AV 7:2) /// Limeriek III (AV 
7:2) /// 'Etse! Tjeend gaan met grrawater uit!' (AV 7:2) /// Dans uit vergange se dae (AV 7:2) /// Nergensland (AV 7:2) /// Nag vol 
feeste! (AV 7:2) /// Duitser berig in Afrikaans uit Europa (AV 7:2) /// Staande ovasie vir Afrikaans (AV 7:2) /// Duitse toewyding 
toegespits op Afrikaans (AV 7:2) /// Ambassade reik kosbare CD uit (AV 7:2) /// 'Bubbelbad' borrel (AV 7:2) /// Waar's daai gogga? (AV 7:2) 
/// Wind van voor is niks nuuts nie (AV 7:2) /// Afrikaans en die jeug (AV 7:2) /// Hoe praat jy met tieners? (AV 7:2) /// Onthou om nie te 
vergeet nie (AV 7:2)

